Article

Die Franse (wyn-)konneksie

Met die uitbreiding van AdVini se belange in Suid-Afrika danksy ’n meerderheidsaandeel in Stellenbosch Vineyards, is die Franse wynleier opnuut op almal se lippe. Wie is die Fransman op ons stoep? 

 

Dit is lekker om te weet AdVini is net in Suid-Afrika omdat ’n Suid-Afrikaner die geleentheid raakgesien en raakgevat het.

Naretha Ricome noem haarself “die mees Afrikaanse meisie in Frankryk”. Maar as die besturende direkteur van AdVini bly sy objektief oor die maatskappy se belange in Suid-Afrika.

Naretha het ’n Bcom-graad in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en haar meestersgraad in ekonomie in Frankryk behaal. Sy het haar Franse man in Dubai ontmoet en hoewel haar wortels diep in Suid-Afrika lê, het sy familie-wynplaas in Frankryk dié land die logiese keuse gemaak om hulle in te vestig. Sy het haar “aan die besigheidskant” in die wynbedryf tuisgemaak, eers by Château de la Tuilerie en daarna by Mont Tauch, albei in die suide van Frankryk.

Regte tyd, regte plek

Naretha het eindelik by Ogier in die bekende Châteauneuf-du-Pape beland, wat aan die Jeanjean-familie van Languedoc behoort. In 2010 het Jeanjean vir Michel Laroche oorgekoop om so Frankryk se vierdie grootste wynprodusent, AdVini, te word. Laroche het op daardie stadium wingerde in Chablis, Chili, Languedoc en vir L’Avenir in Suid-Afrika besit.

Die belegging in L’Avenir was nie besonder winsgewend nie en die nuwe eienaars het gou geluide gemaak om daarvan ontslae te raak. Dit was genoeg om enige oud-Matie wat tussen die wingerde grootgeword het en van wynmaker Francois Naudé se Pinotage geleef het te laat laer trek. “Is julle nou mal?” het hierdie Afrikaanse meisie (sekerlik in keurige en baie meer diplomatiese Frans) laat hoor. “Dis nie net nóg ’n plek in die middel van nêrens nie,” het sy protesteer. “L’Avenir pas presies in by jul model!”

Antoine Leccia, bestuurshoof van AdVini, het Naretha ’n jaar gegee om haar bewering te staaf. Dit was al gaping wat sy nodig gehad het. Saam met die plaaslike span het sy nuwe lewe in L’Avenir – Frans vir “toekoms” – geblaas, en AdVini se teenwoordigheid in Suid-Afrika verseker.

AdVini se besigheidsmodel

AdVini het doelbewus en met oorleg gekies om in Frankryk en Suid-Afrika te spesialiseer. Dit was ’n mosie van vertroue uit die boonste rakke en hoewel dit ’n uitdaging is om in Suid-Afrika se wisselvallige ekonomiese klimaat besigheid te doen word die Jeanjean-familie se Korsikaanse avontuurlus deur ’n stewige dosis sakevernuf getemper.

Verskeie faktore maak die Kaapse wynlande vir buitelandse beleggers aanloklik. Die rand-euro-wisselkoers is gunstig en dieselfde grond in Boergondië of Bordeaux sal aansienlik meer kos. Boonop kan beleggingswins twee keer vinniger in Suid-Afrika as in Frankryk gerealiseer word, volgens Naretha. Daar is ook genoeg ongeslypte diamante hier wat met vlymskerp fokus en ’n helder visie ontgin kan word. AdVini is bowenal mens-mense, sê Naretha, en die geesdrif en openhartigheid van Suid-Afrika se wynlande het die Franse beïndruk.

Dit is ook hier dat AdVini se besigheidsmodel na vore tree – oftewel terugstaan. Die groep stel nie in ’n generiese resep belang nie en daar word nêrens ’n algemene stempel afgedruk nie. Die plek en sy mense speel ’n belangrike rol; elke plaas behou sy plaaslike karakter en word deur die mense van daardie omgewing bestuur. “Die AdVini-model is gebaseer op eienaarskap,” sê Naretha. “Jy besit jou grond tot in die glas.”

Dit beteken daar word intensief in die plek, grond en mense belê met die oogmerk om terroir-spesifieke wyne te verkoop wat elke aspek van die landgoed die beste ten toon stel. Gehalte kom uit die hart. “Authenticité est le nouveau luxe,” sê Naretha. Egtheid is die nuwe luuksheid.

Uitbreiding

Met die aanskaf van Le Bonheur en ’n meerderheidsaandeel in Ken Forrester in 2016 het AdVini sy teenwoordigheid in Suid-Afrika planmatig uitgebrei met ’n portefeulje wat versoenbaar is met ’n neiging tot premiumisering. Vanjaar is die pakket verder aangevul met ’n meerderheidsaandeel in Stellenbosch Vineyards.

Elkeen word bemagtig om met sy sterkste kaarte te speel, en elkeen se rol is aanvullend binne ’n langtermynplan. Dit gaan oor sinergie. L’Avenir kan die streek se beste Pinotage en Chenin Blanc na vore bring; Le Bonheur het ongelooflike potensiaal vir Cabernet Sauvignon, Merlot en Sauvignon Blanc; Ken Forrester se Chenin Blanc en Rhône-versnitte is ongeëwenaar; en Stellenbosch Vineyards bring veelsydigheid, markervaring en kapasiteit na die tafel. Volgens Edo Heyns, strategiese ontwikkeling- en kommunikasiebestuurder van AdVini Suid-Afrika, sal Stellenbosch Vineyards effektief AdVini se innovasiesentrum, Maison du Cap, huisves. Dit gee ook vir AdVini toegang tot groter volumes gehalte Wyn van Oorsprong uit Stellenbosch.

Gemeenskaplike verkoopsmag

AdVini staan dalk op die agtergrond op sy wynplase, maar die handskoene kom af wanneer die wyn mark toe moet gaan. Die groep se beleggings moet winsgewend wees, en dit beteken wyn op die rakke. Die troefkaart is ’n indrukwekkende verkoopsmag wat deur die hele groep gedeel word. Dit maak ’n gekoördineerde aanslag op die wêreldmark moontlik.

Ken Forrester het hoë waardering vir die verkoopspan. “Jy word deel van hierdie genepoel van mense met wyn in hul are en ’n diep waardering vir die produk. Die verkoopspersoneel is hoogs gekwalifiseer en uiters professioneel.”

Die pad mark toe is die goue draad wat die harde werk op die plaas met verbruikers verbind. “Met AdVini is ek deel van die internasionale wynmark,” sê Ken.

Trots Suid-Afrikaans

Naretha som AdVini se Suid-Afrikaanse betrokkenheid as volg op: “Die groep wil op ’n baie nederige en volhoubare manier deel wees van die opkoms van Suid-Afrika se premiumwyne en dit mark toe vat omdat hier ’n werklike geleentheid geïdentifiseer is.”

Dit is lekker om te weet AdVini is net in Suid-Afrika omdat ’n Suid-Afrikaner ’n geleentheid raakgesien en raakgevat het. As AdVini die Stellenbosch-streek die volgende Languedoc wil maak, sal die hele bedryf eindelik daarby baat.

Article Archives

Stay current with our monthly editions
0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop